|
EKSKLUSIEWE AANBOD: Bakkrans Natuurreservaat is ‘n unieke Cederberg aanbieding – jou eie private toevlugsoord wanneer jy besoek aflê. Wanneer jy akkommodasie op Bakkrans reserveer waarborg ons algehele eksklusiwiteit en privaatheid aan jou groep, ongeag hoeveel huisies julle okkupeer. Ons onderneem om geen ander besoekers in te neem terwyl julle daar bly nie. Die hele reservaat en sy fasiliteite is dus eksklusief vir julle uitgeboek om te verken en rustig te geniet.
Bakkrans (±6000 ha in grootte) is ‘n weggesteekte en grotendeels onbekende wildernis-gebied in die Rooi Cederberg Karoo Park. Dit het manjefieke bergreekse en ‘n groot verskeidenheid van soorte plante, inheemse wild, voëls, en ander wildlewe. Die reservaat se vroeë mense-geskiedenis is vasgelê in rotskuns wat duisende jare oud is. Artefakte wat vermoedelik ±100 000 jaar oud is, is hier gevind.
‘n Besoek aan Bakkrans is baie vêr verwyder van jou alledaagse toerisme aanbiedings. Die huisies is tradisionele gedekte, klipmuur veldhuisies, gebou met materiaal wat oorwegend verkry is vanuit die reservaat. Ons het hulle gebou en gemeubileer om die leefstyl te reflekteer van die veewagters, wie hier gebly het gedurende ‘n lank reeds verdwene Kaapse pioniers-tydperk. Die akkommodasie hier is sonder pretensies, maar gemaklik met spierwit beddegoed.
Die “badkamers” vir elke huis is so ontwerp dat jy ‘n uitspattige 100 kilometer uitsig oor die groter Karoo het en ‘n ware gevoel van vryheid ervaar wanneer jy stort. Ons het met groot sorg die bouwerk met ‘n baie ligte “voetspoor” gedoen om nie die omgewing te skaad nie.
Ons gebruik oop vure en gas om te kook. Jy kan dus kos voorberei op die tradisionele manier, met tradisionele metodes, wat altyd ‘n hoogtepunt vir besoekers is. Lanterns en kerse word gebruik vir lig.
Jy kan deelneem aan verskeie aktiwiteite. Wildkyk en veldritte kan gedurende die dag gedoen word. Daar is ook geleentheid vir fotografie, voëlkyk, spoorsny, stap, sterrekyk, blomme-kyk, ensomeer. Of jy kan sommer net êrens op ‘n stil plek gaan sit om die stilte en skoon lug te geniet.
Ons Geologie & Rotskuns Staproete neem jou na fossiel-afdrukke van die heel eerste klein boompies wat hier ±360 miljoen jaar gelede gegroei het, sowel as rotskuns wat duisende jare oud is. Wanneer jy die Luiperd Roete stap gaan jy verby ‘n ou klip luiperd vanghok.
Die hele infrastruktuur van die groter Bakkrans Reservaat, sowel as al die toerisme-fasiliteite, word onderhou deur plaaslike werkers en ambagsmanne. Dit verseker dat die voordele van ons werksgeleenthede binne-in ons gemeenskappe bly.
Fasiliteite & Dienste Voorsien
- 8 gaste kan ge-akkommodeer word in 4 private huisies, elk met 2 enkel beddens.
- Elke huisie het sy eie aparte stort en toilet geriewe.
- Ons voorsien beddegoed en handdoeke, indien so verlang.
- Ons voorsien alle kookware, kombuisgerei, breekware, glase, messegoed en roosters.
- ‘n Kombuis-fasiliteit met ‘n yskas/vrieskas is beskikbaar om kos te stoor en voor te berei.
- Ons voorsien 2 sakkies hout gratis vir elke aand. Ekstra brandhout kan ook aangekoop word op Bakkrans.
- 'n Reservaatbestuurder is ann diens om te verseker dat dienste en fasiliteite beskikbaar aan besoekers in stand gehou word en funksioneel is te alle tye.
- As jy nie jou eie 4x4 vervoer beskikbaar het nie, kan jy saamry na Bakkrans met die reservaat-bestuurder in sy Land Rover Defender.
- Lees asseblief ook “Belangrike Inligting omtrent Bakkrans” en “Gereelde Vrae” op hierdie bladsy.
Tariewe en Terme
- Met beddegoed en handdoeke voorsien
Koste: R495 per persoon per nag, met:-
- ‘n minimum van R1 980 per nag.
- ‘n minimum van 2 nagte per besoek.
- 10% diskonto vir ‘n vol groep van 8.
- Sonder beddegoed en handdoeke voorsien
Koste: R445 per persoon per nag, met:-
- ‘n minimum van R1 780 per nag.
- 'n minimum van 2 nagte per besoek.
- 10% diskonto vir ‘n vol groep van 8.
- Ons het verskillende tariewe vir kinders. Kontak ons asseblief vir meer inligting.
- Huise kan ge-okkupeer word vanaf 16h00 op dag van aankoms.
- Huise en fasiliteite moet ontruim word teen 11h00 op dag van vertrek (Tye aanpasbaar, wanneer moontlik).
Besprekings
- ‘n 30% deposito is betaalbaar om ‘n bespreking te bevestig, betaalbaar aan Rooi Cederberg Toere – Nedbank Rek. 118 609 7973, Takkode 198 765.
- In geval van ‘n kansellasie
#0 tot 15 dae voor datum vir arrivering, word 100% van die deposito verbeur.
#16 tot 30 dae voor datum vir arrivering, word 75% van die deposito verbeur.
Belangrike Inligting omtrent Bakkrans
Antwoorde op vrae wat besoekers gereeld vra. Dit is belangrik vir jou om hierdie noukeurig te lees:
Afstand & Reistyd na die Cederberg:
- Alle besoekers aan Bakkrans reis eers na die plaas Keurbosfontein (sien kaart op webwerf), vanwaar hulle vergesel word na Bakkrans deur die reservaart-bestuurder. Bakkrans is ‘n onbewoonde wildernis en die ingangshekke is altyd gesluit.
- Keurbosfontein is omtrent 3 uur se ry vanaf Kaapstad. Bakkrans is dan ‘n verdere 1 uur se ry vanaf Keurbosfontein. Alhoewel Bakkrans slegs 20 kilometers vanaf Keurbosfontein-plaas is, neem dit 1 uur om dit te bereik met ‘n 4x4 voertuig.
- Dit is baie belangrik om jou rit so te beplan dat julle bakkrans kan bereik teen nie later as 16h00 in die winter en 17h30 in die somer.
4x4 Vervoer Beskikbaar:
- As julle Keurbosfontein-plaas per motor kan bereik, kan ons julle verder vervoer na Bakkrans Reservaat. Julle kan saamry met die reservaat-bestuurder in sy Land Rover Defender, sonder enige bykomende kostes vir julle.
- Ons het ook ‘n sleepwa vir bykomende toerusting, indien nodig.
- Die reservaat se Land Rover is nie beskikbaar om besoekers op begeleide toere binne-in die reservaat rond te neem nie en kan slegs gebruik word om besoekers na en vanaf Bakkrans te vervoer. Alhoewel Bakkrans se paaie 'n vreugde vir 4x4 eienaars is, gebruik baie besoekers aan Bakkrans ook nie hulle eie voertuie wanneer hulle daar is nie, want die beste manier om die reservaat te ervaar is deur die roetes, rotskuns en die natuurlike omgewing te voet te verken.
Eksklusiwiteit vir Besoekers:
- Wanneer jy ‘n bespreking maak vir Bakkrans, waarborg ons dat die reservaat en alle fasiliteite eksklusief net vir jou en jou vriende gereserveer word, teen geen ekstra kostes addisioneel tot ons normale tariewe nie.
- Ons onderneem om geen ander besoekers in te neem terwyl jy (julle) daar bly nie, ongeag van die aantal huisies wat julle gereserveer het of gebruik tydens julle verblyf.
- Die hele reservaat en sy fasiliteite is dus eksklusief vir jou uitgeboek en julle kan dit verken en geniet in totale privaatheid.
Beste Tyd vir Besoek / Blomme:
- Die blomme-seisoen vanaf Augustus tot Oktober is ons besigste tyd. Die blomme op Bakkrans is volop en fantasties in die lente, soortgelyk aan die blomme wat jy in die Biedouw-vallei sal kry. Lente is ook die tyd wanneer die veld vol jong diertjies is.
- Sommige besoekers kom egter spesiaal om spesifiek die winter- of somer-seisoen te ondervind.
- Dit sneeu wel in die winter op Bakkrans, maar dit smelt na ‘n dag of twee. In ‘n goeie jaar kry ons omtrent 200/250 millimeters reën, so vir ons is reën altyd ‘n wonderlike gebeurtenis.
- Die besoekers in die somer slaap soms buite. (As julle gretig is om dit te doen, bring asseblief jul eie slaapsakke saam).
- Die Rooi Cederberg Karoo (en Bakkrans) is eintlik baie naby aan Sutherland en het fantastiese skoon lug vir sterrekyk. Wanner dit volmaan is, is die sterre egter minder sigbaar, maar dan kan jy weer die in die helder maanskyn vir kilometers sien tot in die uitgestrekte Karoo – ‘n wonderlike ervaring.
4x4 Voertuie / Roetes:
- Slegs 4x4 voertuie word in die reservaat toegelaat. Alhoewel Bakkrans ook bereik kan word met ‘n 2x4 met ‘n hoë grondvry-hoogte, beveel ons dit nie aan nie.
- As julle nie ‘n 4x4 beskikbaar het nie, kan julle saam met die reservaat-bestuurder in sy Land Rover Defender na Bakkrans ry.
- ‘n Besoek aan Bakkrans sal jou neem oor omtrent 80 kms van wonderlike 4x4 roetes, maar dit is nie ‘n bestemming vir die 4x4 entoesias om sy voertuig se vermoëns te toets nie. Ons roetes is handgemaakte, goedversorgde twee-spoor paaie wat saam met die kontoere van die berghange loop en ons “kompakteer” ons paaie wanneer ons daarop ry.
Klerasie & ander benodighede:
- Maak altyd seker dat julle genoeg warm klere saambring, selfs in die somer, wanneer die nag-temperature soms onverwags kouerig kan word.
- Alhoewel ons lanterns, kerse en klein flitsligte voorsien, wil ons aanbeveel dat besoekers ook hul eie klein kopliggies saambring want dit kom baie handig te pas.
- Bring swemklere in die somer as julle die waterpoel wil gebruik.
Maak asseblief ook seker om julle eie handdoeke saam te bring om te gebruik by die waterpoel want ons laat nie toe dat ons handdoeke na die poel geneem word nie.
- Onthou ook om dinge te bring soos persoonlike medikasie, sonskerm, sonbrille, hoedens, verkykers, kameras, ens.
- As julle buite wil slaap, onthou asseblief om slaapsakke saam te bring.
Reservaatbestuurder & Personeel / Take
- Die amptelike take van die reservaatbestuurder (Arrie), is om te verseker dat dienste en fasiliteite beskikbaar aan besoekers, in stand gehou word en funksioneel is te alle tye. Vir hierdie rede is hy altyd teenwoordig wanneer besoekers op Bakkrans oorbly.
- Aangesien hy 'n integrale deel van die ontwikkeling van Bakkrans was, is hy 'n skatkis van inligting oor die reservaat en sy habitat. Hy is normaalweg beskikbaar en gewillig om besoekers by te staan met dinge soos algemene gidsdienste, wat insluit wildkyk, spoorsny, staproetes, ens., asook sommige aktiwiteite soos vuurmaak en braai. Hierdie is egter nie deel van sy amptelike take nie en sal alleen op versoek van besoekers gedoen word.
- In gevalle waar Arrie hulp verleen aan en besoekers vergesel, het baie van hulle die behoefte om hom te vergoed en ons stel gewoonlik voor dat hulle oorweeg om 'n bydrae te maak tot die spaarfonds wat hy vir sy kleinkinders hou.
- Die reservaatbestuurder gebruik nie die reservaat se Land Rover om besoekers op begeleide toere binne-in die reservaat rond te neem nie. Die voertuig kan slegs gebruik word om besoekers na en vanaf Bakkrans te vervoer. Baie besoekers aan Bakkrans gebruik ook nie hulle eie voertuie wanneer hulle daar is nie, want die beste manier om die reservaat te ervaar is deur die roetes, rotskuns en die natuurlike omgewing te voet te verken.
Selfoon-ontvangs:
- Bakkrans is een van slegs twee klein areas in die Cederberg Bewarea wat selfoon-ontvangs het. Alhoewel dit soms ‘n goeie 4-staaf MTN-sein is, is dit nie konstant orals in die reservaat nie. Vra gerus vir die reservaat-bestuurder waar om die beste sein te kry.
- Indien nodig, en as julle nie MTN-diens gebruik nie, is dit miskien ‘n oorweging om ‘n tydelike (klein) MTN SIM-kaart en tyd, net vir die besoek te koop.
- Omdat Bakkrans nie ‘n konstante sein orals het nie, word selfone net aangeskakel wanneer dit benodig word. Besoekers word dus nooit gepla deur selfone nie.
Bergfietse:
- Ons laat bergfietse toe op Bakkrans. Dis belangrik dat fietsryers net in die voertuig-paaie mag ry en nie in die veld, of voetpaaie nie.
Swem:
- Ons het ‘n klein waterpoel wat baie populêr is in die somertyd, maar dit is nie groot genoeg om in te swem nie. Die poel is bo-in ‘n hoë waterval en word omring deur kranse wat koel skadu reg deur die dag bied.
- Maak asseblief seker om julle eie handdoeke saam te bring om te gebruik by die waterpoel want ons laat nie toe dat ons handdoeke na die poel geneem word nie.
Staproetes:
- Ons staproetes is maklik om te stap en dele daarvan loop deur pragtige klowe.
- Ons tweespoor-paaie vir voertuie loop deur pragtige dele van die reservaat, waar dit die kontoere van die berghange volg. Ons vind dat baie besoekers hierdie paaie spontaan as staproetes gebruik.
Kinders:
- Ons ondersteun die idee dat kinders die belangrikheid van natuur-bewaring aanleer en moedig ook graag ouers aan om hulle kinders na Bakkrans te neem. Ouers word egter vriendelik versoek om hulle kinders onder streng toesig te hou en om hulle goeie leiding (guidance) te gee.
- Waar kinders op hulle eie alleen in ‘n huis bly, voorsien ons hulle van spesiale battery-lanterns sodat dit nie vir hulle nodig is om vuurhoutjies, kerse en gewone lanterns te hanteer nie.
Nie toegelaat:
- Daktente (asook ander kleiner tente) pas nie in by die ambianse van Bakkrans nie en ons laat dit daarom nie toe nie. Verder laat ‘n voertuig met ‘n daktent ook sy eie ”voetspoor” agter waar dit geparkeer is.
- Vure om te kook word in die braai-area toegelaat, maar nie by die huisies of in die veld nie.
- Brandhout mag nie in die veld gebreek of bymekaar gemaak word nie. Brandhout kan op Bakkrans by die reservaat-bestuurder aangekoop word.
- Troeteldiere, harde musiek, vuurwapens, motorfietse en quads word streng verbied.
Personeel / Gidse:
- 'n Personeel-lid van die reservaat sal altyd besoekers tydens hulle besoek vergesel, selfs al word hulle vergesel deur hulle eie gids.
- Ons het addisionele aparte akkommodasie beskikbaar vir gidse, sowel as vir personeel.
Spesiale Toere:
- Ons kan besoeke met spesiale temas reël, soos rotskuns, fotografie, spoorsny, ens. Sulke besoeke moet minstens 4 weke vooruit beplan word en is afhanklik daarvan of ‘n gepaste gids beskikbaar is.
Wild / Berg-zebras:
- Ons het ‘n verskeidenheid van wildspesies op Bakkrans. Ons hou streng by die belangrike aanvaarde ekologiese beginsels deur slegs wildspesies aan te hou wat tradisioneel en natuurlik in hierdie Rooi Cederberg-gebied voorgekom het.
- Ons het Kaapse bergzebras, asook gemsbok, springbok, ribbok, klipspringer, duiker, steenbok, vostruis, ystervark, aardwolf, erdvark en vele ander. Roofdiere sluit in luiperd, jakkals, rooikat, groukat, ratel, ens.
- Ons het 15 bergzebras ingebring gedurende 2000/2001 en het nou 32. Hierdie diere is hoogs bedreig en kan slegs verkry word onder streng permit kontroles, wat deur Cape Nature toegepas word.
- Bakkrans is deel van die navorsings-gebied van die Kaapse Luiperdtrust. Die eerste luiperd wat hulle ooit met ‘n infrarooi kamera afgeneem het, was op Bakkrans. Sy loopgebied is ‘n indrukwekkende 1400 vk. kilometer. Ons logo is vanaf ‘n foto van hierdie spesifieke luiperd.
Biblioteek / Inligting:
- Ons het ‘n klein draagbare “biblioteek” op Bakkrans met boeke oor plante, diere, voëls, reptiele, insekte, endiesmeer, wat ook in die reservaat te vinde is. Ook ingesluit is verslae oor die rotskuns en geologie van Bakkrans.
- ‘n Klein boekie met ‘n kort beskrywing oor die geskiedenis, infrastruktuur en werking van die reservaat is ook beskikbaar.
Risiko & Versekering:
- Alle besoekers en hulle afhanklikes betree Bakkrans Reservaat en maak gebruik van die beskikbare fasiliteite, toerusting en aktiwiteite op hulle eie risiko. Besoekers moet hulle eie, asook vir hulle afhanklikes, alomvattende en uitgebreide risiko-versekering reël en uitneem om al hulle moontlike indiwiduele en persoonlike behoeftes en benodighede ten volle te dek, vir en tydens hulle besoek aan Bakkrans. Hierdie voorwaardes en terme is ook van toepassing op op besoekers aan die naburige Mooiberg Natuur-reservaat.
Kredietkaarte:
- Ongelukkig het ons nie kredietkaart-fasiliteite nie. Ons bedryf is oorwegend in die Cederberg, waar ons doelbewus nie elektrisiteit gebruik in ons ou-wêreldse ambianse nie. Ons versoek dat alle betalings asseblief per bank-oordragte gedoen word.
|